Wednesday, July 29, 2009

Hiatus

Goeiemore al my liefste blog-besoekers!

Ja dis reg, SuperJaco leef toe nog al die tyd. Geen ontvoerings deur ruimtemannetjies hier betrokke nie - SuperJaco handhaaf net 'n goeie balans tussen besig wees en sleg wees en gevolglik dus die laaste paar maande se blog-stilte.

Oor 'n week keer SuperJaco vir die laaste medium-termyn besoek terug na Réunion Eiland toe, en van daar sal ek weer my bloggerasies hervat, en stuk vir stuk begin afsluit aan die laaste 3 jaar se Réunion Chronicle saga.

Sien uit om binnekort weer met julle gesels.
Watch this space!

SuperJaco

Friday, March 27, 2009

29 keer om die son

Goeiemore vriende, familie en vriende wat ek nog nie ken nie!

Dis reg, SuperJaco is vandag (op die minuut, om die waarheid te sê) 29 jaar oud. Die laaste jaar van my 20's het sopas begin. 'n Jaar gelede hierdie tyd het ek in 'n lab in Stellenbosch gesit. 'n Jaar voor dit was ek in 'n kar oppad Transkei toe. 'n Jaar voor dit was ek in PE besig om 'n eerste visum vir Réunion te probeer kry. 'n Jaar voor dit het ek my eie verjaarsdag vergeet weens my beste vriend se dood 3 dae vantevore. Jip, die 20's was intens en goed en taai en vormend. En elke keer as ek dink ek is nou klaar gevorm, vat ek nog 'n punch wat my nuwe insig gee (amper soos daai advertensie van die ou wat sy kar heeltyd stamp totdat dit lyk soos 'n Clio) :-)

As ek vir myself een ding kan hoop vir my volgende lewensjaar (en julle kan almal maar saamwens hier, I need all the help I can get), is dat teen hierdie tyd volgende jaar, wanneer ek terugkyk en my 20's totsiens wuif, ek so kan maak met nuwe letters in plaas van "mnr" voor my naam :-)

So ek lig my glas spreekwoordelik, eerstens op myself (ingeval niemand anders dit doen nie), en tweedens op die nuwe insigte, uitdagings, deurbrake (en miskien selfs net gewone brake), vriende en ervaringe wat my nuwe jaar sal inhou, en waarvan ek die room sal afskep en met julle sal deel :-)

Dankie aan al my lesers vir julle volgehoue ondersteuning en belangstelling. Julle rock!

Groete en liefde,
SuperJaco

Tuesday, March 24, 2009

Phew!

Die regering het gister 'n inisiatief begin waarmee jy kan seker maak of jy nog lewendig of afgestorwe is - in hulle boekies ten minste.

I shit you not...


Klaarblyklik is ek nog lewendig.... wat goed is om te weet. Daai hele "I think therefore I am" ding het dit nie meer vir my gedoen nie...

Friday, March 20, 2009

AU Geldeenheid

Hallo daar!

Net 'n vinnige gedagte, 'n skribbel op die spreekwoordelike SuperJaco servet:

Zimbabwe het onlangs 'n veelvuldige monetêre sisteem in werking gestel waarin die Amerikaanse Dollar, die Suid Afrikaanse Rand, die Botswana Pula en die Zim Dollar almal as wettige tender aanvaar word. Vandag is daar besluit om die Suid Afrikaanse Rand te gebruik as 'n verwysings-geldeenheid vir hierdie veelvuldige stelsel. Een van die redes wat gegee is vir die Rand as basis, is omdat daar planne in die (redelike lang termyn) pyplyn is om 'n gemeenskaplike geldeenheid in die Afrika Unie te skep, soortgelyk aan die Europese Unie se "Euro".

My eerste gedagte was: wie se lekker job gaan dit wees om te moet opkom met voorstelle vir 'n naam vir die geldeenheid? Die eenheid sal waarskynlik gebasseer wees op die Rand, gegee SA se sterk ekonomie. So sal ons voortgaan om dit die Rand te noem? Probably not. Aangesien Botswana die Pula gebruik is dit net 'n kort sprong na die "Moola" toe, wat ek dink nogal oulik sal wees. As ons dit moes vernoem na prominente Afrika leiers sit ons met idees soos "10 Madibas", "20 Idi's", "30 Savimbi's" of (red 'n nasie) "40 Zumas". Maar IMAGINE net hoe cool dit sal wees as 'n haircut jou "50 Afro" sal kos!


Wednesday, January 28, 2009

Réunion Chronicles v2.0, Nr 6 - "Kultuurskok - Deel 1"

DEEL 1 - "It's not easy being French"
28 Januarie 2009

My lewe tussen die Franse nader nou kumulatief die 12 maande mylpaal. Ter viering hiervan het ek besluit om my ervaringe saam te vat in 'n dekonstruksie van die Franse psige, taal, leefstyl en kookkuns. Dis moeilik om hierdie konsepte van mekaar te skei, aangesien 'n Franse persoon onverstaanbaar kan mompel met 'n mond vol slakke en blare en terselftertyd arrogant kan wees en stink. Ek gaan egter my bes probeer om stuk vir stuk vir julle 'n prentjie te skets van waarmee ek elke dag moet opsit.

Ek dink dis net sinvol om te begin met 'n breë oorsig oor die Franse "mindset" (ken iemand 'n beter Afrikaanse woord hiervoor?) en hoe dit oorspoel na die alledaagse lewe. In latere inskrywings sal ek dinge soos die taal en kos aanpak.

Frankryk, soos Suid Afrika, het 'n leuse. Suid Afrika s'n, indien iemand sou kon regkry om dit suksesvol uit te spreek, sou min of meer iets klink soos "Kyk! 'n Karretjie!" (!ke e: /xarra //ke). Dit het drie forward slashes, 'n dubbelpunt en 'n onderstebo uitroepteken. Frankryk s'n loop voor in sy eenvoudigheid van slegs 2 leestekens, alhoewel dit drie letters bevat waarvoor mens Alt op die keyboard nodig het. Die Franse leuse is "Liberté, Equalité, Fraternité". Volgens Uncyclopedia beteken dit "Cigarettes, Alcohol, Coffee", wat nie vêr verkeerd sou wees nie, maar in der werklikheid beteken dit "Vryheid, Gelykheid, Broederskap". Wat bietjie meer vervelig is...

Nou dis alles goed en wel oor die vryheid en die broederskap, maar gelykheid is definitief nie iets waarop die Franse groot is nie. Ek vermoed daar is iets in Franse vrouens se borsmelk wat 'n genetiese arrogansie oordra van generasie na generasie. Die Franse is vas oortuig (en ek oordryf nie hier nie) dat die feit dat hulle Frans is hulle 'n trappie bo die res van ons sit. Dat alles wat Frans is per definisie beter is as enige ander weergawe daar buite te vinde. En hoewel ek dink nasionale trots is 'n goeie ding, en dat ons in SA bietjie kan bekostig om meer soos die Franse te wees (in daai opsig), dink ek ook dit sou goed wees as die Franse net eers gecheck het voor hulle hierdie arrogansie ontwikkel het. Want in my ervaring is "Frans" beslis NIE automaties gelyk aan "beter" nie. Dis asof die Franse in alles wat hulle doen en is aandring daarop om aspris 45 grade uit te wees met die res van die wêreld (en dan baie beindruk te wees daarmee). En dis nie beter nie. Dis net plein irriterend

Wanneer mens in die Franse samelewing gedompel word, val die meer praktiese dinge jou eerste op. Kom ons begin by badkamers. Die Franse het nog nie ontdek dat mens 'n stortkop kan monteer teen 'n muur nie. Franse storte is 'n stortkop aan 'n pyp wat lê in 'n bad sonder 'n gordyn of prop. Die enigste manier om jouself te reinig sonder om die hele badkamer nat te spuit is dus om te sit of hurk in die bad, die krane oop te draai sonder om jouself te vries/brand, en jouself nat te spuit. Dan maak jy weer die krane toe. Dan, afhangende van jou eie persoonlike roetine, volg die seep/shampoe, waarna jy met glibberige hande en seep in jou oe weer die stortkop moet opspoor, die krane oopdraai, en jouself afspoel. Lather, rinse, repeat as needed. Dit is so 'n ongemaklike proses dat ek begin verstaan hoekom die meeste Franse sleg ruik. Sometimes it's just not worth the hassle.

'n Verdere vreemdheid is toe ek die eerste keer een van die badkamers op kampus besoek het, en die hele vloer vol water was. Ek het aangeneem daar is 'n pyp wat lek, en 'n ander badkamer gaan soek. Maar mettertyd het ek 'n onaangename waarheid begin besef: ALLE franse badkamers lek, en nat toiletvloere is 'n alledaagse werklikheid. Ek het 'n klasmaat in Geologie gehad wat vir elke liewe klas 5 minute laat was. As iets een keer gebeur neem mens aan dis 'n ongeluk. Maar as dit elke liewe dag gebeur, moet mens nie dan begin wonder of daar iets skort met jou roetines, aannames, en/of pype nie?

Wat my bring by die volgende Franse vreemdheid. Die skouer optrek. Ook bekend as die "Gallic Shrug", of "Bof". Stel jou voor iemand wat net net op die punt is om op te gooi, en dan 'n ligte beroerte kry. Dit is min of meer die Franse reaksie op enigiets wat vir hulle gesê word. 'n Plattrek van die mondhoeke en 'n lig van die wenkbroue gevolg deur 'n semi-spastiese skouer optrekking. Dit word gebruik om 'n pletora van bedoelings oor te dra, maar gewoonlik beteken dit "Dis nie my skuld nie", "Ek weet nie", "Ek stem nie saam nie", "Ek gee nie om nie" en/of "Ek twyfel". As ek dus by iemand sou gaan kla oor die feit dat die badkamer se vloer vol water is, sal ek 9 uit 10 keer gegroet word met die "Bof" (pretty much om al die bogenoemde gevoelens uit te druk). En dis nie net in reaksie op klagtes nie. Dis asof die Franse so bang is vir mekaar, dat in enige gesprek, hulle 'n non-committal "Bof" sal doen asof hulle wil sê "Ek hoor wat jy sê, maar ek gee nie regtig om nie".

Hierdie selfde mentaliteit van traak my nie-agtigheid kring veel verder uit as net informele gesprek. Enigiemand wat al ooit 'n afspraak, deadline of vergadering met Franse beleef het sal verstaan dat Afrika tyd te vinnig beweeg vir die gemiddelde Fransman om te volg. Die Franse het 'n tyd van hulle eie, maar steur hulle nie regtig daaraan nie. Stiptelikheid is nie hoog op die prioriteits lys nie en middagetes wat nie ten minste 90 minute duur nie is gehaas. (Middagetes begin ook omstreeks 11:30 vm, maar moenie dat ek eers begin afgaan daaroor nie...).

Dan, in lynregte teenoorstelling hiermee, staan die Franse Administratiewe stelsel. 'n Pynvolle beurokratiese gemors wat bestaan uit onbeskryfbare hoeveelhede papier, tyd en oortolligheid. In een van my gunsteling Asterix & Obelix stories (Asterix & the Twelve Tasks) word hierdie stelsel uitmuntend uitgebeeld as "a mind-numbing multi-storey building founded on bureaucracy and staffed by clinically unhelpful people who direct all their clients to other similarly unhelpful people elsewhere in the building". Selfs die Franse erken op hierdie punt, dat hulle administratiewe sisteme genoed is om mens (soos Obelix) teen die mure uit te dryf.

Verdere dinge wat die non-Franse persoon mag opval by sy eerste onmoeting met hierdie uitdagende mense, is die alewige gesoenery en hand-skuddery (wat actually nogal lekker is, afhangende van wie gesoen word ;-)), die verkeersligte wat net aan die een kant van die kruising is sodat, wanneer jy stop, jy jou nek moet rek om die lig op die paal langs jou te kan sien, die feit dat mens jou eie sakkies moet pak in winkels (wat lei tot baie lang toue in die winkels) , die 35 uur werk week en dan, natuurlik, die kos en die eetgewoontes. Vir die laasgenoemde, sal julle egter moet wag vir my volgende inskrywing, waarin ek julle sal uitneem vir ete a la Francaise :-)

Hoop almal het 'n lekker week!
A prochaine fois!
Le SuperJaco